|
Die weer het vanoggend vir die eerste keer begin opklaar na 'n paar dae se reën weer.
Ek het twee jaar gelede op die 31ste Desember 'n Bergjakkalsvoël op die Hemel en Aarde pad gekry, maar kon dit nie verlede jaar weer opspoor nie, grotendeels omdat ek nie kon onthou het waar pressies ek dit gekry het nie. Ek het laat vanoggend weer gaan kyk of ek 'n Bergjakkalsvoël kon kry op die Hemel en Aarde pad. My eerste stop was by die plek waar ek verlede week die Gryskopmossies gekry het. Die plek is baie besonders omdat daar 'n klomp habitatte is wat op die punt bymekaar kom. Daar is 'n klein uitheemse plantasie op die een kant. Dan is daar bewerkte plaaslande asook koringlande op die ander kant. Daar is ook berg fynbos asook 'n paar klein dammetjies in die omgewing. Dan is daar die berg op die een kant en 'n vallei op die anderkant. Die voëls wissel van Suidelike Swie en Paradys vlieëvangers en Gryskopmossies by die Akkerbome en Kaapse kanaries in die Bloekombome tot die Grysrugtinktinkies, Kaape suikervoëls en Oranjeborssuikerbekkies en Grysrugtinktinkies in die Vleibos en Protea en fynbos op die berg en dan het ek al heelwat verskillende roofvoëls by die spesifieke plek gekry. Ek het vandag my eerste Rooiborssperwer in die gebied gesien, maar het al Witkruisvleivalke ook hier gesien asook Rooibors-, Bruin- en Berg-Jakkalsvoëls kom hier voor. Sodra mens oor die nek van die berg gaan, hou die berg fynbos skielik op en op die Caledon kant van die berg is daar 'n klein Bloekombosplantasie. Net na die Bloekombosplantasie volg die landerye dan tot by Caledon. Ek het die pad Hemel en Aarde pad gevolg tot amper in Caledon en toe terug gedraai en stadig begin terug ry. Ek het 'n Bruinjakkalsvoël in 'n Bloekomboom gesien en gestop om dit af te neem. 'n Klein entjie verder sien ek sommer van 'n afstand af 'n Berjakkalsvoël langs die pad op 'n paal sit, maar dit vlieg op voor ek kon stop en verdwyn agter 'n heuwel. Toe dit nie weer tevoorskyn kom nie, maak ek 'n U-draai en vat die eerste pad in die rigting wat ek dit laas gesien het. Nie te ver op die pad nie sien ek dit weer op 'n kragpaal sit. Die keer neem ek eers so paar fotos van vêr af en gaan hou ek stil langs die paal en kry darem nog 'n foto in voor dit opvlieg. Die Rooiborssperwer en die Bergjakkalsvoël het meer as genoeg daarvoor opgemaak vir enige lifers en ek is terug huistoe. Ek is seker ek gaan nog Witvlerkkanaries op die pad kry en sal weer hier 'n draai maak in die nuwe jaar.
| |
|