|
Ek het vanmiddag gaan kyk wat daar te vinde was in die Durbanville omgewing, na lekker harde stortreën gisteraand.
Daar was oral staande water en sommige plase in die laagliggende gedeeltes se grond was ook onder water en die grondpaaie in die Klipheuwel omgewing het meer slaggate as gate in 'n Switserse kaas.
Ek het eers 'n draai gaan maak in die Klipheuwel omgewing. Hier het ek 'n "Durbanville-lifer" gekry in die vorm van 'n Witkwasmuishond en sommer 'n foto ook! Dis die naaste aan Durbanville wat ek al ooit 'n Witkwasmuishond gesien het. Hierna het ek 'n paar meer bekende grondpaaie gaan opsoek nader aan Durbanville.
Ek toe kry ek 'n tweede verassing vir die dag. 'n Hamerkop op 'n plaas net buite Durbanville! Dit is ook 'n Durbanville omgewing lifer vir my! Ek het ook 300 kransduiwe getel op een van die omgeploegde landerye op dieselfde plaas. Dis die grootste swerm duiwe wat ek al gesien het. Ander hoogtepunte vir die dag sluit in 'n paar Dikbeklewerikke, wat in die afgelope tyd maar "ylgesaai" was in die Durbanville gebied, asook heelwat Landeryklopkloppies en Oranjekeelkalkoentjies in die Klipheuwelomgewing asook 'n Gewone Kwikkie wat drie keer 'n bad gevat het in 'n poeletjie water langs my motor. Die weer het my omtrent verras, omdat ek meer reën vanmiddag verwag het. ... en toe was dit terug huistoe vir my :-)
| |
|