|
Ek, Ursula en die kinders is die naweek weer Hermanus toe vir 'n langnaweek en dit het my die geleentheid gebied om weer in Hemel en Aarde te gaan voëls kyk.
Ek het vir Johann gaan wys waar ek die Swartsuikerbekkie so twee weke terug ontdek het en sommer gaan kyk of ek 'n beter foto kon kry van 'n Swartsuikerbekkie.
Ons het skaars gestop op die plek waar ek laas die Suikerbekkie gesien het of ons sien weer een. Dis nie lank nie of ons sien 'n mannetjie. Ons het so paar keer teruggegaan na die area so tussen die reënbuie deur wat oor die hele langnaweek plaasgevind het.
Ons het albei redelike fotos gekry en ek is baie bly dat ons hulle van so naby af kon sien. Daar was 'n paar ander spesies wat ons ook gesien het oor die paar dae. Die opwindindendste was toe ons Saterdagaand 'n Vleiloerie opgejaag het uit 'n bos amper armlengte weg van ons. Dit was al skerp skemer en die Gewone Vleiloerie het uit 'n baie digte Loerierboom opgevlieg en in 'n ander Loerierboom ingevlieg sowat 10meter van die eerste Loerierboom. Toe ons hom in die tweede Loerierboom probeer opspoor het hy in 'n digte vleibos ingevlieg en toe verwyn. Ander voëls wat ons ook gesien het was Suidelike Swie en Gryskopspeg.
Daar was sowat vier onvolwasse of wyfie Swartsuikerbekkies en een volwasse mannetjie. Die Jangroentjies was volop en hier en daar het Kleinrooibandsuikerbekkies ook kom nektar soek. Ons het ook 'n Gewone Willie gesien en 'n Afrikaanse Naguiltjie wat van vêr af geroep het.
So tussen die natgereën deur , was dit nogal heel opwindende voëlkyk gewees vir die hartjie van die winter.
| |
|