|
Ek, Ursula en die kinders is vir so paar dae plaas toe om vir my Pa-hulle te gaan kuier in die Overberg naby Wolvengat. Die dag het op 'n hoë noot begin toe ons almal, net na Gansbaai, ons eerste Grootgrysmuishond gewaar het. Ongelukkig was my kamera nie byderhand nie en moes ons tevrede wees om net die dier te bewonder. Gelukkig het hy reg langs die pad doodstil gaan staan en kon ons mooi na hom kyk. By die plaas aangekom, het ons lekker gekuier en ek het so tussendeur weer tyd gemaak om op die plaas rond te stap en te kyk of ek iets nuuts kon vind. Ek het my eerste Kardinaalspegge, Paradysvlieëvanger op die plaas gesien asook 'n soort sanger wat ek glo 'n Hofsanger is, maar ek sal maar later duidelikheid moet kry ook die korrekte identifikasie. Die eerste baie interessantheid wat ons gesien het, was twee Witooievare, wat vanaf die Plaashuis sigbaar was. Die een Witooievaar het 'n bad gevat in die vlakwater van een van die plaasdamme. Die tweede baie interessantheid was toe ek, Melissa en my Pa 'n ent in die veld gaan stap het en my Pa ewe skielik gaan vasgesteek het en verstar het. Ons weet nie wie die grootste geskik het nie, maar 'n Boomslang, wat homself baie vinnig opgeblaas het, skaars 'n meter en 'n half van my Pa se voete af, het homself baie vinnig uit die voete probeer maak (as ek die term mag gebruik). Ons was eers so bietjie verward oor watter tipe slang dit was, omdat dit na 'n groter tipe slang gelyk het. Die oomblik toe die slang die koelte van die naaste boompie bereik het, het dit ewe skielik weer sy normale grootte(dikte) bereik en kon ons duidelik sien dat dit 'n Boomslang was. Ons het toe ook in 'n boek later bevestiging gekry dat die Boomslange wel hulle eerste kwart van hulle lywe so kan opblaas, indien hulle bedreig voel en ook net voor hulle sal pik. Ek het toe later nog 'n Boomslang in 'n boom gesien, waar 'n paar Kaapse Bosbontrokkies sy posissie verklik het. Voor ons ons oë kon uitvee was dit tyd om weer te pak om terug te keer huistoe. Dit was 'n heerlike rustige kuiertjie gewees en ek was dankbaar om so baie nuwe spesies ter selfde tyd op die plaas te kon vind.
| |
|