|
Ek is vanoggend al vroegoggend oppad Weskus Nationale Park toe, vol verwagtinge dat ek die Hudsonbaaigriet sal sien en ook sommer so dan 'n lifer by te kry en om my Weskaaplandse lysie so bietjie aan te vul. By die Weskus Nationale Park aangekom is ek eers Geelbek toe. My oggend het goed begin toe ek 'n Terekruiter daar sien en 'n goeie herkenbare foto ook nog kry. Ek is kort hierna voort na Seeberg toe. Daar aangekom sien ek onmiddelik nog 'n Terekruiter reg voor die hide, maar taamlik ver weg. Die dag was vir my 'n absolute fees om al die watervoëls in hulle broeidrag te sien.
Dis die eerste keer dat ek so baie ruiters, griete, knoete en strandlopers so by mekaar in hulle broeidrag sien. Daar was ook 'n Mongoolse Strandkiewiet wat op 'n afstand gebly het. Dit is ongelukkig waar vandag se opwinding opgehou het, want alhoewel daar heelwat Griete vandag was, was daar geen teken van die Hudsonbaaigriet nie. Ek is laatmiddag vir 'n kort rukkie Veldrif toe om te kyk of ek dalk weer die "oranjebek Sterretjie" kon opspoor om 'n meer positiewe identifikasie te kan kry, maar ek kon die voël nie opspoor nie. Ek is toe weer terug Seeberg toe. Daar was nog steeds geen teken van die Hudsonbaaigriet nie. Ek het toe oppad huistoe weer by die Geelbek Hide ingeloer, waar ek 'n Grootwulp gesien het asook 'n paar Grootflaminke. Ongelukkig geel lifers vir die dag nie maar wel 'n interessante dag.
| |
|