13 March 2010    
Strandfontein  
   
 

Ek sou vanoggend so bietjie later geslaap het, omdat ek so moeg was van gister en eergister se vroeg opstaan om na die Hudsonbaaigriet in die weskus te gaan soek, maar vanoggend toe ek wakker skrik het ek maar besluit om op te staan en 'n vinnig draai by Strandfontein te gaan maak om te kyk of ek die Geelkwikkie kon kry wat onlangs daar opgemerk is. By Strandfontein aangekom was John Graham reeds op die pad tussen Pan1 en Pan2. John draai skielik sy bakkie skuins in die pad voor my en beduie dat daar iets langs die pad sit... ... toe sien ek dit ook... 'n Geelkwikkie loop in die kort gras langs die pad, maar bietjie vêr weg vir 'n goeie foto. Dit is seker sou geel as wat mens dié Geelkwikkies kan kry en 'n absolute fees vir die oog. Na so bietjie se bewondering deur my verkyker kry ek darem ook 'n paar fotos van die voëltjie ook. Die Geelkwikkie vlieg skielik op en verwyn saam met 'n klomp swaels wat oor hom gevlieg het. Ek spoor die kwikkie darem weer na so paar minute se soek waar hy teen 'n wal op die oorkant van die pad kos soek en ek beduie eers vir 'n paar birders, wat net daar aangekom het waar die voëltjie sit, voor ek terugkeer huistoe. Ek moes ongelukkig vroeg terug wees by die huis. Dit was die moeite werd om so lank te gewag het om my eerste Geelkwikkie te sien. Na gister en eergister se terleurstellings met die Hudsonbaaigriet, was die Geelkwikkie baie meer as net 'n troosprys vir my en ek keer heel in my noppies terug huistoe met 'n lifer in die sak.

   

Geelkwikkie Geelkwikkie Geelkwikkie
     
Geelkwikkie Geelkwikkie Geelkwikkie