|
Na 'n baie suksesvolle oggend by Strandfontein was ek maar net te bly om die res van die dag by die huis te spandeer om 'n paar nodige takies af te handel. Teen mid-oggend het daar 'n baie ligte reën buitjie uitgesak oor Durbanville en het ek die elektriese grassnyer gaan bêre en in die huis ingegaan en deur my fotos van die Geelkwikkie begin kyk.
Net toe bieb my selfoon langs my en Trevor se "MEGA" email ruk meteens my rustige Saterdag oggend gemoed soos 'n los mat onder my voete uit. In 'n oogwink gryp ek weer na die selfoon om vir David Hall te kontak. "Die Hudsonbaaigriet is weer by Geelbek opgemerk!". Na 'n paar minute is ons twee oppad Weskus Nationale Park toe en ons albei is baie opgewonde, maar ook skepties of ons wel die voël sal sien. Dit was altemit my derde probeerslag en David se tweede probeerslag! By Geelbek hide aangekom is ons baie verlig om Trevor daar te sien en sowat 'n minuut later sien Trevor 'n baie verdagte griet en vertel vir almal in die hide waar die voël sit. Nog 'n minuut of twee later lig die Hudsonbaaigriet sy vlerk en daar is 'n koor van verligde stemme wat juig, omdat die ondervlerk die gesogde swart vlek op gehad het, maar tot my spyt het ek dit gemis! Trevor gee weer aanwysings en na 'n paar oomblikke van totale verwarring aan my kant,(dat ek skoon deur verkeerde scope kyk :-) ), sien ek darem ook die voël en sien ek ook die halwe swart ondervlerk. Toe is dit oor na die baie groter uitdaging om 'n foto te kry van die voël wat die ondervlerk ook wys. Trevor is die eerste een om sowaar dit reg te kry om 'n foto te kry. Dit is nie 'n maklike taak nie, want die weerkaatsing van die laatmiddagson op die water veroorsaak verblindende silwer sterretjies op die water en na 'n paar vinnige verstellings op my kamera lê ek ook aan op die Griet. Die Bandstertgriet agter die Hudsonbaaigriet klap meteens sy vlerke (sien die hoof foto hierbo) en die Hudsonbaaigriet, wat op daardie oomblik nog half aan die slaap gestaan het met sy snawel onder die vlerk, skrik so groot dat hy sy vlerke lig van die skrik en op dieselfde split sekonde druk ek my kamera se sluiterknoppie vir 'n tweede opeenvolgende keer. Ek kon dit nie glo nie en ek moes myself net inhou om nie op en af te spring nie - Dit is so goed soos wat hierdie twitches seker kan raak! Dis nou ook die soveelste lifer wat ek aan Trevor te danke is. Dankie Trevor! Ek het al opgehou met tel... Kort hierna is almal huistoe. Ek en David het nog 'n bietjie langer daar gesit om te kyk of ons nie 'n beter foto kon kry nie, maar die weerkaatsings van die son op die water het net erger geraak. Ons het jammer gevoel om die Hudsonbaaigriet net so daar "te los" en nie vir enige iemand dit te kan wys voor ons geloop het nie, maar niemand het opgedaag nie en na 'n "high-five" is ons daar weg. MAN, watter dag was dit nie!!! Twee lifers vir my op een dag! 'n Geelkwikkie (so geel as wat mens seker kan kry) en 'n Hudsonbaaigriet MET 'n foto wat die ondervlerk en die swart bostert duidelik wys!- Watter dag!!!! Beter as dit kan mens nie seker nie kry nie!
| |
|