10 April 2010    
Klipheuwel omgewing en Engen Quickstop N7  
   
 

Ek het vanmiddag my kamera en verkyker gegryp en gespaander Klipheuwel se kant toe, toe die eerste gaste opgedaag het vir 'n Tupperware partyjie by ons huis. Dis droog en baie van die boere het die stoppels op hulle lande begin brand. Die voëllewe het opgedroog en geen teken van enige Bruinjakkalsvoëls of Geelbekwoue meer nie. Ek moes maar oral rondkrap om voëls raak te sien. Ek het naby Kliphewel gestop en 'n Grysruglewerik mannetjie gesien. Dis 'n spesie wat ek vandag geteiken het en ek was baie bly om weer een te sien in die gebied. Ek het ook 'n groepie van drie takbokke gesien wat deel is van 'n groter groep takbokke wat in die gebied aangetref kan word. Ek het verlede week 'n groter groepie Takbokke in dieselfde omgewing gesien, wat 'n jong ram en 'n paar jonges ingesluit het. Ek het besluit om maar terug te keer huistoe, maar ek gewaar 'n Visarend wat in die teenoorgestelde rigting vlieg en besluit om hom agterna te sit en 'n foto te probeer kry, maar die pad kronkel in 'n ander rigting en laatmiddag stop ek by die "Engen garage, naby die Philidelphia afdraai op die N7. Hier kyk ek toe ook sommer wat om die dammetjie langs die vulstasie aangaan. Na 'n bietjie se stilstaan gewaar ek 'n Afrikaanse Snip en 'n Bosruiter! Dit was 'n groot verrassing! Halfpad deur moes ek terughardloop kar toe om 'n spaar kamerabattery te gaan kry en in die prosses van batterye omruil moes my motorsleutel uit my sak geval het en verloor het. Ek moes toe maar noodgedwonge vir Ursula en die kinders wag om vir my 'n spaarsleutel van die huis af te bring. Ek, Ursula en die kinders het toe eers ietsie saam by die Wimpy geeët en is toe huistoe. Hierdie onbeplande uitstappies is gewoonlik die mees interresantstes. Geen lifers nie maar die Grysruglewerik was vir my die dag se hoogtepunt.

   

Blouvalk Gewone Bontrokkie - wyfie Gewone Bontrokkie - mannetjie
     
Rooivink Rooikoplewerik Grysruglewerik
     
Witkruisvleivalk Kransvalk - wyfie Takbok
     
Dubbelbandstrandkiewiet Dubbelbandstrandkiewiet - onvolwasse Rooipootelsie
     
Afrikaanse Snip Bloureier - onvolwasse Bosruiter