|
Ek het vandag weer die aangrensende platteland naby Durbanville gaan besoek. Ek het eers noord gery en die middag uitstappie het op 'n laagtepunt begin toe ek twee dooie Kleingrysmuishonde langs die pad vind wat raakgery is. Ek het in die afgelope jaar 'n besonderse belangstelling begin ontwikkel vir die nuuskierige diertjies en dit was vir my 'n hartseer gesig om die diere so daar aan te tref. Die betrokke gedeelte van die pad het 'n hoë wal aan die kant gehad en hulle het 'n baie skraal kans gehad om te ontsnap van die motors se wiele. Ek het toe maar verder noord gery na Klipheuwel se kant toe, waar die voëllewe baie stil was. Ek het vandag gemerk dat al die swaels finaal noordwaards getrek het en daar was net 'n klomp Witborskraaie wat hulle self geniet het in die laat middag briessie . Ek het 'n klompie Koningrooibekkies gesien wat naby die gebrande lande besig was om kos te soek. Ek het toe Paarl se kant toe gery en langs een van my oubekende damme gaan stilhou, waar ek baie lanklaas besoek het. Dit was beslis die regte besluit, want daar was heelwat aktiwiteit om die dam. Die hoogtepunt was om 'n enkeleGroenpootruiter, Kleinstrandlopers, 'n Geelbekreier asook 'n klompie Lepelaars daar dop te hou. Dit was my eerste Groenpootruiter in die gebied. Al die damme is nog droog of amper leeg en hopelik sal hulle spoedig almal weer vol wees.
| |
|