|
Ons het vanmiddag vir Makayla uitgevat om so paar voëls af te neem met haar nuwe kamera, wat sy vanoggend vir haar verjaardag gekry het.
Ons het uitgery Klipheuwel se kant toe, waar ons weer duisende Kransduiwe gesien het wat op die geploegde lande toegesak het. Dit is ongetwyfeld die meeste Kransduiwe wat ek al ooit in een swerm gesien het. Ek skat daar was meer as 3000 duiwe in een van die groot swerms. Ons het omtrent al die gewone roofvoëls gesien wat die tyd van die jaar in die gebied aangetref kan word. Ons was gelukkig genoeg om 'n Kransvalk te sien wat van 'n telefoonpaal af 'n groot akkedis reg langs ons motor gewaar en gevang het. Die Kransvalk het toe langs ons motor op 'n wingerd paaltjie gaan sit en toe weer opgevlieg en op die telefoonpaal gaan sit met sy vangs. Die Kransvalk het skaars gesit of hy het weer afgeduik na die wingerd paaltjie en toe vinnig afgehop binne die blare van die wingerd in, reg langs die wingerd paaltjie. Ek het toe rondgekyk en 'n Witborskraai gesien wat so 200m van daar in die kransvalk se rigting gevlieg het. Ek neem aan dat die Kransvalk het geskuil vir die Witborskraai, voor die Witborskraai na genoeg was om te sien dat dit iets gevang het. Die Kransvalk het toe weer na omtrent 'n minuut uit die wingerd te voorskyn gekom en weer opgevlieg na die paal toe, maar sonder die akkedis! Ek neem aan dat dit die akkedis verloor het. Ons het ook 'n Blouvalk gesien het wat voor ons verby gevlieg het met 'n muis in die kloue, wat toe op 'n paal gaan sit het en die muis baie vinnig verorber het. Daar was ook 'n onvolwasse Rooiborsjakkalsvoël wat op 'n afstand verby ons gesweef het. Makayla het darem fotos gekry van die Kransvalk en die Blouvalk en was baie trots op haar fotos. Ons het ook 'n Namakwaduifie weer gesien. Ons is toe terug huistoe, sodat Makayla na haar fotos op 'n groot skerm kon kyk en vir nog verjaarsdagkoek en tee :-)
| |
|