|
Na 'n onsuksesvolle twitch vanoggend by Simonstad het ek 'n vinnige draai by Strandfontein gemaak en net 'n draai om Pan2 gery. Pan2 is heelwat voller as wat dit die afgelope tyd was, met die reënseisoen wat nou amptelik begin het. Ek het 'n Withalskraai gekry wat bly sit het vir 'n foto of twee. Ek het gemerk dat die kraai se een voet mors af was. Ek het hierna nie minder as 6 Nonnetjieseende ook op Pan2 gesien asook 'n hele klompie Witpelikane gesien in broeidrag.
Ek het 'n angsbevange oomblik beleef toe ek halfpad uit die Zeekoevlei se gronde was en ek myself amper "wasgeloop het" teen boewe, wat teen volle vaart amper beheer verloor het oor die BMW, waarin hulle weggejaag het vir die polisie. 'n Polisiebakkie was kort op hulle hakke en die twee voertuie het verby my geskree gekom teen volle vaart. Die BMW se een band was vermoedelik pap geskiet, maar dit het nie die boewe verhoed om teen volle vaart voort te jaag nie. Daar was vinnig 'n stuk of tien ander polisie motors wat met serenes en flikkerende ligte gevolg het om hulp te verleen aan die polisie bakkie. Die hekwag by die voorste hek was asvaal geskrik en het vir my gesê dat sy agter die muur van die hokkie moes skuil, toe die polisie op die BMW losgebrand het toe hulle daar verby is.
Na al dié opwinding, het ek maar gemaak dat ek so vinnig moontlik daar wegkom. Ek vermoed dat die boewe daar ingejaag het omdat die padwerke by Strandfonteinweg hulle natuurlik verhoed het reguit aan te jaag. Daar is natuurlik net een pad in en uit by Strandfontein Zeekoevlei en die boewe sou heel moontlik hulle rieme styf geloop het. :-)
| |
|