5 Junie 2010    
R45 tot Mauritzbaai  
   
 

Na 'n oggend se sport by Moreesburg is ek, Ursula, Melissa en Makayla deur Vredenburg se kant toe om 'n draai te gaan maak by die see. Ons het skaars op die R45 ingedraai vanaf Mooreesburg of ek sien 'n Sekretarisvoël. na 'n foto of tien, is ons voort om eers middagete op Vredenburg te gaan eet. Van daar af is ons toe Mauritzbaai toe. Daar aangekom het ek maar eers deur die Sterretjies gesif, voordat die inkomende gety die voëls van die rotse dryf en ek teen die son moet fotos neem. Ek het vir so 'n uur lank fotos geneem, voordat die klompie Sterretjies die ander kant van die baai gaan opsoek het, wat teen die son vir my was. Die son was besig om te sak en ons moes maar weer terugry huistoe. Net 'n entjie anderkant Mauritzbaai sien ons 'n Swartvlekkorhaan wyfie langs die pad en toe ook haar maat. Na 'n paar vinnige fotos is ons voort. Ek het skaars op dreef gekom of ons sien 'n Kleingrysmuishond, wat op 'n klip in die laatmiddagsonnetjie lê en bak. Na 'n paar keer se heen en weer ry langs die diertjie, kry ek dit tog reg om 'n foto te neem van dié besondere kamera-vriendelike Kleingrysmuishond, sondar dat die plaasheining se draad in die fotos is. Dit is vir my dan ook lekker om die Kleingrysmuishond bo aan vandag se blog te kan sit, na die skokfoto van die twee dooie Kleingrysmuishonde van so paar weke gelede. Die diertjies is vir my baie spesiaal en ek hoop om nog baie fotos van hulle in die toekoms te kry. Ons het toe weer deur Vredenburg teruggery huistoe, met die hoop dat ons weer die Sekretarisvoël op die R45 sou sien. Net anderkant die Mooreesburg afdraai op die R45 vlieg 'n Sekretarisvoël voor ons oor die pad en gaan land so harloop-harloop op die anderkant van die pad in 'n veld. Die Sekretarisvoël laat nie op hom wag nie en stap toe vinnig aan oor die land, weg van ons af teen 'n heuweltjie uit, maar gelukkig sien my ek toe telefoonpale in die verte waarheen die voël oppad is. Ek draai toe vinnig om en ry terug, met die hoop dat ek 'n plaaspad sou vind, wat in die rigting sou lei, waarheen die Sekretarisvoël oppad was. Gelukkig vind ons toe 'n plaaspad waarop ons toe kon indraai en gelukkig was daar ook geen privaat eiendom bordjies nie by die oop hek nie :-). Ons was net betyds om tot stilstand te kom, voordat die Sekretarisvoël, reg langs ons, oor die bult tevoorskyn kom en reguit in ons rigting stap. Die Sekretarisvoël het gestap tot so 15meter van ons motor af, voordat dit opgevlieg het en 'n ent verder weg weer gaan land het en verder gestap het. Dit was omtrent 'n belewenis om die Sekretasvoël van so naby af te kon sien en dit nogal met die laatmiddag sonnetjie net mooi agter ons. Watter lekker einde aan 'n baie lekker dag!

   

Sekretarisvoël Sekretarisvoël
     
Swartvlerkkorhaan - wyfie Swartvlerkkorhaan - mannetjie
     
Grysborssterretjie - Sterna vittata vittata Grysborssterretjie - Sterna vittata vittata
     
Grysborssterretjie - Sterna vittata sanctipauli Grysborssterretjie - Sterna vittata sanctipauli