|
Ek het vanoggend 'n ent gaan ry, nadat Ursula vanoggend saam met die kinders na 'n kinderpartyjie toe was en omdat dit so 'n lekker oggend was. Nadat ek duskant Darling opgeeindig het, het ek besluit om 'n draai in die Weskus Nationale Park ook te gaan maak. Net voor Darling het ek 'n klompie Lelspreeus aangetref in die gewone geselskap van 'n groepie Witgatspreeus. By die Weskus Nationale Park aangekom, het ek eers by Abrahamskraal se hide 'n draai gaan maak. Daar was die gewone klomp watervoëls asook 'n paar Kopereende en 'n klompie Teeleende. Nadat een van die wyfie Teeleende haar snawel plat op die water gehou het, terwyl sy saam met haar maat geswem het, het die twee in die water gepaar, met net die wyfie se kop wat by die water uitsteek.
Ek het toe Geelbek hide toe gery en oppad soontoe eers 'n Swartvlerkkorhaan langs die pad afgeneem. Die gety by die Geelbek "hide" was nog baie hoog en omdat ek nie die hele dag daar wou spandeer nie het ek besluit om eerder Tsaarsbank toe te ry. Oppad soontoe sien ek iets langs die pad. Ek sien iets wat lyk soos 'n verkleurmannetjie op die rand van die teerpad en draai toe terug met my motor om te kyk wat dit was. Dit was toe waarlik 'n "Western Dwarf Chameleon". Was dit nie vir die verkleurmannetjie se skaduwee nie, sou ek dit mis gekyk het. Die verkleurmannetjie was eers doodstil op die padoppervlak, maar nadat ek dit opgetel het, het dit skielik lewe gekry. Ek het dit op 'n takkie gesit om 'n paar fotos te neem en dit toe op die kant van die pad gesit waarna dit oppad was. Ek was omtrent in my noppies met die lifer. Dit is altyd lekkerder om 'n lifer in die Weskus Nationale Park kry. By Tsaarbank aangekom het ek twee Swartobies met ringe op die bene gesien. Die een Tobie het drie ringe aan sy twee pote gehad, terwyl die ander een net een silver ring aan die een poot gehad het. Daar was baie Kleinrooibandsuikerbekkies in volle broeidrag vandag in die reservaat te sien. Ongelukkig kon ek nie 'n foto kry van die mannetjies met die geel veertjies op hulle sye nie. Ek is van Tsaarbank af terug huistoe, via Darling. Net na die Darling se afraai sien ek 'n Witkruiskruisvleivalk wat voor my motor op 'n rot toesak op die oorkant van die pad. Ek wou nie die Witkruisvleivalk pla nie en het dit daarom van 'n afstand dopgehou en gehoop dat dit sou opvlieg met sy vangs. Reg langs die Witkruisvleivalk, wat besig was om sy vangs op die grond dood te maak en onder beheer te kry was 'n telefoonpaal en bo-op die telefoonpaal het 'n Witborskraai gesit. Die Witorskraai het die Witkruisvleivalk met sy vangs gesit en dophou. Ek het gedink dat die Witborskraai die Witkruisvleivalk sou pla, maar die kraai het doodstil bly sit. Die Witkruisvleivalk het in vrede sy middagete opgeeët en al wat ek kon sien van die vangs was 'n dik stert wat by sy bek uitgehang het toe hy die laaste gedeelte van die rot ingesluk en afgewurg het, totdat die hele rot ingesluk was.
Dit was 'n opwindende einde aan 'n baie lekker wintersdag!
| |
|