|
Ek het baie laat vanmiddag besluit om 'n 15minute draai te gaan ry om die laaste bietjie daglig te benut, voor die son ondergaan. Ongelukkig vir my het die son agter 'n wolk verwyn, net soos wat ek by my oprut uitgery het en het die son nie weer sy verskyning gemaak vir die res van die dag nie. Skaars 10minute weg van my huis, kom ek op 'n trop Takbokke af wat ek so dikwels nou al die afgelope paar jaar naby aan Durbanville raakloop het. Vanaand was 'n baie spesiale oomblik, omdat dit ongetwyfeld die grootste trop Takbokke was wat ek tot dusver bymekaar gesien het. Daar was meer as 50 takbokke in die een trop met net een ram en 'n hele klompie ooie en jong takbokke in die trop. Afgesien van die feit dat dit reeds baie laat was en daar ook geen sonskyn was nie, was ek maar te bly dat die fotos darem heel skaflik uitgekom het. Dit was net die einde waarvoor ek gesoek het om 'n baie stil dag 'n baie interessante dag te maak!
| |
|