|
Ek, Ursula en die kinders het dié naweek Albertinia toe gery vir ons jaarlikse familie samekoms daar. Ons het die meeste van die mooi weer Vrydag probeer maak deur Vrydag vroeg te ry en so kuier-kuier deur te ry Albertinia toe, voor die groot koue front Saterdag die Suidkaap sou tref. Ons het oppad soontoe eers by Worcester gestop vir oggendete en toe weer by Robertson gestop om 'n CD of twee te kry vir die pad. Net voor Roberson het ons 'n Bleeksingvalk gesien op die gewone plek naby die Roberson Kelders. Ons het toe die "scenic route" deur Montagu en Barrydale gery. By Barrydale het ons weer gestop en middagete geeët, waarna ons weer by Grootvadersbosch gestop het vir 'n uur so teen 3pm. By Grootvadersbosch het ons 'n klompie Grootrooibandsuikerbekkies en Suidelike Swie gesien en afgeneem. Ongelukkig het ons geen van die woudvoëls gesien nie, maar die idee was om net daar vir 'n uur bene te rek. Die res van die naweek, net soos wat ons voorspel het, het toe uitgereën en hopelik sal die reën aanhou en die damme volmaak wat so leeg is in die Suidkaap. Daar was ook 'n paar damme wat baie laag was en selfs leeg was in die Barrydale omgewing. Die familiebyeenkoms was nie gedemp deur die reën en koue nie en na 'n baie lekker kuiertjie Saterdag en Sondagoggend is ons toe Sondagoggend weer via Heidelberg-Barrydale terug huistoe om die reën en die verkeer te mis, maar nog steeds betyds te wees vir die sokker wêreldbeker eindstryd Sondagaand.
| |
|