|
Dit was 'n baie lekker wintersdag vandag met sneeu nog duidelik sigbaar op die bergpieke naby Worcester. Ek kon nie die goeie weer laat verbyglip sonder om daarvan gebruik te maak nie en het vanmiddag weer die Durbanville area naby my huis besoek. Ek het eers 'n grondpad naby Durbanville besoek en hierna die area tussen Klipheuwel en Durbanville gaan besoek en vandaaraf weer met 'n ompad teruggekeer Durbanville toe. Naby Durbanville het ek die grootste swerm Europese spreeus ooit gesien wat op 'n groot Eskom toring toegesak het en omtrent die hele toring vol gesit het. Dit moes seker 'n swerm van by twee duisend plus voëls gewees het. Dit was lekker om die Bloukraanvoëls se kenmerkende klanke ook vandag te hoor. Ek het 'n onvolwasse Witkruisvleivalk gesien wat besig was om sy vangs te geniet. Ek het ook Rooiborsjakkalsvoëls gehoor skree, maar kon dit nie opspoor nie. Dit was die ideale dag vandag om buite in die veld te wees en die son op jou vel te voel. Ek het die eerste Rooivink mannetjies gesien in hulle mooi rooi en swart broeidrag.
Daar was ook hier en daar 'n Koningrooibekkie mannetjie te sienne wat hulle wyfies probeer beïndruk het met hulle lang sterte. Buiten die onvolwasse Witkruisvleivalk het ek ook 'n Kransvalk en 'n Blouvalk gesien. Ek het ook 'n Europese Spreeu oppad terug huistoe gesien wat dalk bietjie van sy kleur kwyt was, omdat sy kraag gedeeltelik wit was. Ek kan nie wag vir die die lente nie!!!
| |
|